AGTER ELKE HOND

‘n Ruk gelede, maar soos in ’n hele tydjie terug toe ek nog n laaitie was, was daar ’n reeks op die kassie wat ek tot vandag toe nog baie goed onthou. Presies waaroor dit gehandel het of wat daarin gebeur het kan ek jou nie vertel nie want ek was nog te jonk om dit te mag kyk. Tog het dit ’n groot indruk op my gemaak. Ek onthou dit so goed soos gister maar al wat ek jou regtig kan vertel van die reeks is dat Steve Hofmeyer daarin gespeel het en dat die reeks by die naam van Agter Elke Man gegaan het. As ek dit tog maar net kon kyk sou ek dalk vandag weet hoekom n Blou Bul nie meer van die vloer af eet nie, maar dis nou eers genoeg van die verlede se dinge.

Die gebeure wat my nou hieraan laat dink het is die obserwasie wat ek gemaak het dat hier waar ek nou bly- daar ’n hond agter elke man is. Die hond se storie wissel van hond tot hond maar agter die hond is daar beslis elke keer ’n storie. Dit hang soms af van die hond se ouderdom- want sien as hy nog jonk is, is die stories gewoonlik dieselfde. Dan handel dit gewoonlik oor ’n nat plas op die vloer agter die hond. Dalk is dít hoekom ou Steve nie van die vloer af wil eet nie. Dalk het die reeks oor klein hondjies gegaan. Hoe dit ookal sê- dat daar n storie agter elke hond is, is beslis ’n feit. 

Dit gebeur toe ook eendag só dat vriendin Carien en haar man Shaun besluit om vir hulle ‘n sonpaneel vir die plaas aan te skaf. ’n Fênsie gedoente wat sommer so skitter as die son op hom skyn. Dag na dag doen hy sy ding- die son kom op, die paneel skitter en die son loop sak weer as hy moeg is. So gaan die dinge dan ook maar aan op die plaas… dag vir dag, maand vir maand.

Eendag na n lang naweek skyn die son sommer weer ekstra warm in die vroë oggendure- maar al wat skitter is die sonpaneel. Die paneel het sowaar spoorloos verdwyn. ’n Skelm moes sowaar homself kom help het aan die paneel en omdat, so het die skelm seker geredeneer, hy mos nou sy eie sekuriteidsligte by die huis gaan kan hê, het hy mos nie meer sy twee getroe waghonde nodig nie.

Daar en dan, in die hitte van die diefstal besluit Skelm om sy twee honde daar te laat staan vir Shaun & Carien. ’n Eenvoudige besigheidstransaksie, so dink hy nou. Ek neem hulle paneel en hulle kry my honde. Met hierdie Double Think voel Skelm sommer ook beter oor homself en weg is hy met sy nuwe sonpaneel.

Ek wonder hoe ek daaroor sou voel as dit met my gebeur het, maar gelukkig is dit nie my sonpaneel nie so ek wonder darem nie te lank nie en gelukkg vir die twee honne is Shaun hulle darem lief vir diere en neem noodgedwonge die tweetjies aan as hul eie.

Een van die twee honne trek sterk na skaaphond terwyl die ander een, nou-ja hy trek meer na gangster as hond en word Begby herdoop. Hy is nou nie eintlik voorblad materaal nie maar dit pas hom eitlik goed- hy probeer n low profile handaaf. Dis nou al lank wat hy eintlik probeer om ’n uitweg uit die bende-ding te soek.

Begby wil sy bendebedrywighede vir goed agter hom sit en neem sy kan waar terwyl Skaaphond vinnig werk kry op n ander plaas in die kontrei. Tussen die vele ander honde, skape, perde en ander gediertes op die werf kry Begby dit reg om in te blend en soms dan verbeel hy homself dat hy in ’n witness protection program is.

Terwyl ons n oomblikkie alleen is sê hy, hy laaik ‘it kwaai soos dinge nou uitgedraai het. “Soms kom my ou natuur nog bietjie deur” en met dié trek hy sy bolip so effentjies op en skelmpies stoot hy sy goue tand uit vir my om te sien. Ek kon dit nie oor my hart kry om vir hom te sê die goud het afgeval, gelukkig kom hy niks agter nie. Ek glimlag en neem nog n foto. Die flashes pop en vir n oomblik sien ek niks. Toe my oë weer gewoond raak aan die donkerte van die vertrek kan ek sommer sien hoe in sy skik hy met homself is-. “Om te dink die kameraman het al die pad gekom net om vir my af te neem”.